Die Kaapse koue bring veral ontbering vir die stad se meer as 5 800 haweloses.

Maar wie is dié sypadjie – bushalte – en onder-brugslapers? Hoe oud is hulle, watter strate of parke verkies hulle en wat doen hulle bedags?

Die stad Kaapstad het nou begin lig werp op die skaduwêreld van die Moederstad se “straatmense” deur omvangryke nuwe data te publiseer oor wie waar skuiling soek.

Klik hier vir die interaktiewe infograwie

Viz2

Dis nou mense soos Andrew Michael wat op ’n triestige Donderdagaand onder ’n klam kombers teen die skouer van ’n duikweg onderdeur die M3 by Rondebosch inkruip. Hy slaap al ses jaar op straat, vertel dié 39-jarige oorspronklik van Franschhoek. Hy doen “nou en dan spare joppies” vir geld. En hy “skarrel”.

Skarrel is naas slaap, die enkele grootste aktiwiteit op haweloses se agenda, blyk dit uit die navorsing wat tussen Julie 2015 en Augustus verlede jaar gedoen is en vandeesmaand deur die stad bekendgestel is. Die term verskyn amptelik so in die navorsingsdata en daar’s meer haweloses wat skarrel as dié wat werk soek of slaap of net rondsit of – dool. Maar wat presies behels dié term? Michael verduidelik: “Dis in dromme krap…dan kry jy dié goed,” en hy lig ’n data-vinger (USB-drive) omhoog vanuit ’n plastieksak by sy koppenent.

Daar woon 5 839 mense op Kaapstadse strate en sowat 18% van hulle is vroulik. Vir dié is daar boonop die ewige vrees van seksuele geweld, vertel Geraldine Rhode vroeg Vrydagoggend by die Service Dining Rooms in Canterburystraat in die middestad. Net die vorige aand het ’n sekerheidswag haar glo om seks gevra. Met oë stokstyf vertel sy hoe sy en Priscilla Anthony (57) wat langs haar op die sypadjie slaap, die man gevra het om hul met vrede te laat.

“Ek is upset daaroor. Toe sê ek vir (die wag) ‘nee, ek is ’n groot vrou’,” sê die skraal 54-jarige wat vanaf kinderdae in Soutrivier via verbeteringskool en tronk uiteindelik op die straat beland het.

“My skarrel is karre oppas,” verduidelik sy, en wys na die oopte oorkant die stadsargief waar werkendes hul motors bedags parkeer. Sy het nog nooit ’n huis besit nie en haar seun is dood op die straat. “Van die kouete,” sê Geraldine. “’n Mens moet soos ’n man optree anders woord jy doodgemaak,” vertel sy oor die straatlewe en vat-vat tussendeur ons gesprek aan haar nat kouse en tekkies. “Voel hier hoe nat is dit…voel net hier.”

Die middestad, by name Strandstraat en die Kompanjie Tuine langs die parlement, is vir die meeste haweloses “huis”, maar die opname kyk sover as Atlantis, Gordonsbaai en die suidelike skiereiland. Die grootste ouderdomsgroep is tussen 26 en 35, maar daar is 108 minderjariges (onder 18) wat geen heenkome het nie, volgens die nuwe opname wat gebruik sal word as grondslag vir “ingrypings”, aldus die navorsers.
Ricky Marais is vroegdag aan die stuur van sake by die Service Dining Rooms en beskryf wat hy as haweloses se grootste probleem beskou: Hulle word geïgnoreer. En die nommer een-behoefte vir elke mens, is om aanvaar te word. En die nommer een-vrees in die wêreld is verwerping. En (straatmense) ly aan beide.”

Daar is ’n opvallende lae werksoekkoers onder vroulike respondente (3%) vergeleke met manlike haweloses (19%).

Só verwyl Kaapse hawelose hul tyd (Kliek hier vir die interaktiewe infograwie)

Viz1

Sypadjies is verreweg die mees algemene slaapplek, met net sowat 10% van haweloses wat, soos Michael in Rondebosch, onder brûe skuiling vind. Parke, parkeer-areas en bosse dien daarna almal as noodherberg, volgens respondente, met slegs 3 wat kans gesien het om by ’n poskantoor te slaap. – Le Roux Schoeman en Daniela Lépiz

 This story was first published by Netwerk 24 on July 29, 2016